Oppas vir 'n kwaai vrou

Vrou stel glo dodelike lokval in toilet

DRIES LIEBENBERG 30/01/2008 11:00:23 PM - (SA)

Durban. - ’n Vrou wat haar kêrel van die gras wou maak het haar kans waargeneem toe hy sê hy gaan ’n purgeermiddel drink - sy het ’n vlambare middel in die toiletbak gaan gooi en toe gewag . . .

Die 27-jarige vrou is Maandag in die Durbanse township KwaMashu in hegtenis geneem nadat haar kêrel aan sy brandwonde beswyk het.

Volgens kapt. Bongani Khomo, polisiewoordvoerder, het die 28-jarige man van Clermont die vorige dag genoem dat hy kasterolie as purgeermiddel gaan drink.
Voordat sy maag begin werk het, het die vrou volgens die polisie verfverdunner of parafien in die toiletbak gegooi.

Toe die man gaan sit om sy nood te verlig, het die vrou glo die toilet aan die brand gesteek. Sy het die deur gesluit en gevlug.

Volgens Khomo het ’n barmhartige Samaritaan die man se gille gehoor en die deur oopgeskop. Die slagoffer se lyf was toe al oortrek met erge brandwonde maar hy kon die persoon vertel dat dit sy vriendin was wat dit aan hom gedoen het.

Die man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het later by die KwaDabeka-kliniek aan sy beserings gesterf.

Volgens Khomo is dit nie bekend waarom die vrou haar kêrel aan die brand gesteek het nie, maar wil dit voorkom of sy dit met voorbedagte rade gedoen het. (???!!)

Sy sal na verwagting vandag in die landdroshof in Pinetown verskyn.


(Dis 'n regtige koerant berig hierdie, al lyk die name en voorvalle soos 'n wel-uitgedinkte grap!)

No comments: