Die storie van Namibiese Sprinkane

Daar is baie van julle wat mos dink dat ek soms bietjie aandik wanneer ek 'n verhaaltjie vertel. Soos hierdie een oor die sprinkane. Oorlede Oupa vertel van hierdie kortstondige helse sprinkaanplaag daar in die dertigerjare boer tussen Karasburg en Aranos op sy plaas. Dis dié dat die plek nou nog so kaal lyk.
(Feit 1).

Maar hierdie is nou nie die gewone ou plagie soos wat oorlede Farao dit met Moses belewe het nie, of daardietjies waarvan Amos en Joël melding maak nie. Nee, hierdie plaag was veel erger; kleiner in getalle, dalk, maar groter in omvang. So vertel Oupa hoedat die son skielik verduister, en sy ore suis, toe die goet daar neerstryk. Hulle kom land soos 'n Boeing elk, so groot is hulle. En hulle land so reëlmatig net soos wat ons eige staatspresident dit deesdae doen
(Feit 2).

Daar is net nie rooi tapyte vir hulle nie, want dié sou hulle ook opvreet, soos toe ook met Oupa se luserntjies en groentetuintjie gebeur het. Maar so val die goet Oupa se karakoele aan (vir die oningeligtes; 'n karakoel is 'n agtergeblewe skaap) en begin húlle opvreet. En so val hulle sy koeikraal ook met militêre presisie binne. En Oumagrootjie se lê-henne verdwyn ook so die een na die ander. En Oupa strip homself toe natuurlik liederlik. So gryp hy sy 303 en sit af kraal toe op sy bicycle met Simba op 'n stormloop hier langs hom.

(Simba was sy skaaphond, ook agtergeblewe). Nou Oupa kon nie goed skiet nie (daardie dae het ons nog vrede in die land gehad, Feit 3),en hy had ook net twee patrone vir ingeval. Maar hy gaan vir volk en vaderland. By die kraal skiet hy toe 'n waarskuwingskoot in die lug soos wat die Polieste dit vereis
(Feit 4).

Maar toe raak hierdie 100+ sprinkane woedend. Een van hulle skree so "Kieejaa" in Japsnees, en karati-skop arme Blessie so poer in haar nek dat haar uiers net daar uitsak en sy morsdood neerslaan. Die klokkie om haar nek (sy was die leier-koei,feit 5) trek so kliengelieng-kliengelieng skuins agter Oupa verby. Simba storm, maar kry 'n klap van 'n sprinkaanvlerk dat dit voel soos 'n windmeul, en ook hy trek so Auui-Auui hier by Oupa verby.

Sedertdien sou hy (Simba, nie Oupa nie) altyd maar half gek wees (Feit 6). En net daar toe strip Oupa sy laaste skroefdraad. Normaalweg was hy baie sagmoedig (Feit 7), maar toe Simba op pad na vernedering hier by hom verbytrek, toe is dit eens te erg. Ek meen, Simba daar op die plaas was feitlik sy kamermaat
(Feit 8).

Oupa herlaai en lê aan op die hoofsprinkaan. Die skoot knal, die rook walm, die sprinkaan slaan drie keer bollemakiesie. Want dit is 'n doodskoot, senter tussen die twee saamgestelde oë van Hoofsprinkaan. Maar so in sy stuiptrekkinge skop hy wragtig vir oulaas vir arme Bossie (Oupa se stoetbul) op 'n sensitiewe plek so skadelik dat Oupa hom agterna van sy pligte moes onthef, en die 'B' van Bossie se naam moes afhaal.

Oupa is nou in die knyp, want sy patrone is op (Feit 9), en sy hond lê neus eerste in 'n erdvarkgat, van wie daar baie op die plaas is (Feit10). Maar die sprinkane weet dit nie.
Hulle is nou leierloos, en slaan op die vlug. Stof staan soos wat hulle na die aanloopbaan retereer,omdraai, en opstyg om die Kalahari binne te val wat sedertdien ook netso dor is
(Feit 11).

Oupa se plaaspaadjie, wat as aanloopbaan diens gedoen het, is vandag nog onrybaar (Feit 12) van al die paniek om vinnig op te styg. Julle glo my nie, nê ? Oumagrootjie het agterna, toe die stof (waarvan daar baie is, Feit 13) eers weer gesak het, 'n kiekie geneem. (Kiekies,vir die oningeligte leser, was die voorloper van fotos). En dié moet u immers glo; kiekies kan mos tog nie lieg nie ?
(Feit 14).

Met haar eige hande geneem, so op die driepootstaander wat sy gebruik het om seep oor die kole mee te kook. Gelukkig vir haar was die kole op daardie stadium dood. En hierdie kiekie staan tot vandag as bewys van die waarheid. Kyk self; dit is aangeheg.

Sal julle my nou 'n slag glo ???

No comments: